Gasskrywers

GEDIG VIR MOEDERSDAG


telefoonboekie



tussen die lyne ingeskryf

is my ma se geskiedenis:

vriende van nou en toe

bloedfamilie halffamilie hartfamilie

soms dwarsweg en onalfabeties ingepas

waar daar 'n hoek of spasie was



deurgetrek, oorgeskryf en uitgebrei

met elke geboorte, sterfte, huwelik of vertrek
het sy aankomelinge, weggegaandes en nuutgevondes

sekuur aangeteken en voorsien

van datum, tyd en plek



ek lees my ma se lewe

uit die boekie, tannie soekie tannie minnie

tannie bettie tannie naomi bel ek

vryburg welkom

kimberley de aar

om hulle te verwittig

van haar laaste vertrek



Uit: "In die afwesigheid van sin", deur Susan Smith. Beskikbaar by 
Protea Boekhuis.


(Geplaas met toestemming van die digter.)





ONGELUK – deur Berenice Swanepoel

My woorde het saam met die stof gaan lê. Vlak in, om na alle waarskynlikheid nooit weer in hierdie paradys op te staan nie. Vir ‘n vinnige paar oomblikke kantel die uurwerk, soos lank gelede vir die digter, ook vir my.
     “The history of the Fish River Canyon begins roughly 1 800 million years ago...” lees ek uit my Footprint Namibia Handbook vir my gesin by die uitkykpunt, koppie koffie in die hand. En verder af op die bladsy: “Early Bushman legends suggest an alternative origin to the canyon. Hunters were chasing a serpent called Kouteign Kooru across the veld; in order to escape, the snake slithered off into this deserted place and in so doing caused the massive gash that is the canyon. Archeological evidence suggests that the Bushmen, or their ancestors, were here 50 000 years ago, so perhaps they witnessed something...”
     Stille getuies in ‘n afgeleë landskap, so mooi dat daar nie genoeg plek in jou hart is om al die detail te stoor nie.
     “On top of the word,” se ek, die wêreldheerser, arms uitgestrek om te probeer omhels dit wat myne is. Die klank van ‘n naderende voertuig trek saam met my woorde oor die onverstoorbare Visrivier daar onder. Toe die wit kombi begin rol, toe weet ek: Hierheen sal ek moet terugkeer om die oomblik te kom opeis wat die wrede werklikheid so vinnig en blatant voor my oë gesteel het.
     Die verkyker bring die verwarde tonele tot vlak voor my voete. Die kombi staan regop, ek is seker niemand het seergekry nie. Toemaar, toemaar. As ons hier wegry, moet die kinders vasgemaak word. Hoekom hardloop almal so heen en weer? Help hulle, Riehan.
     ‘n Uur word ‘n leeftyd, ‘n leeftyd maar net ‘n uur oud.
     Ek kan hoor hoe hulle in die kombi gesels, op pad na die beginpunt van die Visrivier staproete. Ek sien hoe die mooi meisie haar kop agteroor gooi soos sy lag vir haar donkerkop man. Ek sien iemand biltong eet, water afsluk en skerts oor warm sand, son en blase in verkeerde stapskoene.
     Ons het hulle twee dae gelede vir die eerste keer by Ai-Ais gesien, hierdie stappers. En ek kon nie help om my aan die meisie met die blomswembroek te verkyk nie. Dit was haar breë glimlag, of nee wag, dit was haar wegstap. Haar rug, daar waar sy teen die rooi van die sonsondergang gestaan het. Dit het vir my iets vir die berg en die dag en die tente en die atmosfeer gedoen. Dit was asof sy vir altyd daar moes bly staan ter wille van ‘n oomblik vir môre en oormôre se toeriste.
     “Sy is dood. Haar naam was Melanie,” sê Riehan toe hy my en die kinders in ons eie veilige wit kombi kom oplaai. Ek kyk nie toe ons verby die ongelukstoneel ry nie – fokus net voor in die pad op die Hobas en veilligheid en asem. Here, hou asseblief die hartseer man vas wat daar tussen die los klippe stap.
     Twee ure later sê die vrou by die hek die helikopter het geland om die beseerdes te kom oplaai.
     Ons moet verder ry, want ons was maar net hier om nog ‘n bietjie tyd by die 1 800 miljoen jaar te voeg. Ek draai die kombi se ruit oop, steek my hand uit en vang ‘n stukkie van die warm wind voordat ek vir oulaas omkyk na daar waar die pad na die Visrivier so hel alleen in die son lê.

NOTA: Berenice Swanepoel, van Piketberg, is ook 'n uitmuntende fotograaf. Ek vrek uit oor Berenice se skryfwerk. Sy skryf prosa soos 'n digter.




REIS DEUR DIE KAROO – deur Marike Bruwer

Ons vertrek vroegoggend van ons klein plattelandse dorpie in die hartjie van die Swartland – gewapen tot die tande met kameratoerusting, ‘n paar stukkies klere (nie eintlik ons prioriteit nie), die Engel vrieskas met die padkos en die Quali Juice-sappies. En oukei, ja –  ‘n paar Windhoek en Castle biere. Ons is gereed vir die lang tog deur die Karoo.
     Antenie op die agterseat stel die GPS en die laptoppie op en vertel ons dat ons ongeveer 13 km in ’n Suidelike rigting moet ry. Daar sal ons kom by ‘n kruising waar ons moet links draai en dan die Swartland se heuwellandskap moet deur na Porterville, dan Gouda, dan weer links draai en dan deur die Nuwekloofpas by Tulbagh. Op die draai net soos mens deur die pas gaan, het ‘n lorrie hom ongelukkig gejack-knife en verloor ons amper ons koers in die proses. Antenie lig ons mooi in oor watter dam, watter brug en watter pas ons nou verbygaan. Ek is so stilweg beïndruk maar vrek of ek vir hom dit sal sê.
By Worcester loop ons ‘n draai by die Engen garage en toe ons in Hugoweg wil afdraai, is die pad tydelik gesluit. Ons moet toe die volgende afdraai vat en Antenie neul benoud van die agterseat af dat ons nou ‘n checkpoint gemis het en dat ons nou volgens die GPS die pad heel byster is. Man-hier-langs-my antwoord heel bedaard: “Toemaargh, moenie worrie nie, ek ken die dorp.” Soos ons uitry, kom die vermaning in ‘n aftel van kilometers, van die agterseat af, “jy ry nou tagtig, vyf-en-sewentig, sewentig, so-ja, nou is jy weer binne die spoedgrens”. En man-hier-langs-my wonder stilweg of hulle nie die kanselleer-60-bordjie afgesteel het nie, die “spoedbeperghking kry dan nie klraargh nie”.
     Heel gou verander die landskap en ry ons deur die Overberg, met koringlandkontoere en vêr-vêr berge, blou-blou in die deinserigheid in en klein wit-gekalkte huisies, murasies en grênd plaasopstalle.
     Dan, skielik, oorval die wydte en grootte van die Karoo ons. Die berge raak klipperig, lê soos meslemme, amper of die son dit geslyp het soos vlymskerp tandjies wat in gelid loop in ‘n haai se bek. Die klippers is swart gebrand, die bossies vaal en klein. Selfs die bome is klein, bonsai en knopperig, in die rivierlopies. Droog, natuurlik. Selfs dáár is die bome net minder vaal.
     Ons ry en ons ry deur die Karoo, eindelose einders, een hoogtetjie en groot dale, en wydte; blou-blou lug. Dan, daar in die verte op die regterkant, sit ‘n klein wit vierkantjie. Die vierkantige wit spikkel verander weldra in Ronnie se Sex Shop. Ons kry almal skielik lewe. Vandag is die dag dat ons by Ronnie se Sex Shop stop.
     Blykbaar ‘n belewenis. Nie noodwendig die drank nie. Klipdrift is immers Klipdrift en Castle is Castle, maar die standplaas van die venue en die writings on the wall is waarvoor ons vandag stop. Ronnie is op pad na die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en die tekens van die fees staan dik gedruk orals op die buitekant.  “Sop vir Ronnie”, lui die plakkaat, geborg deur Klipdrift, en elke verbyganger wat gelukkig geraak het by Ronnie het sy twee sente met ‘n halfwas swart khoki op die plakkate bygevoeg. Die rare De Villierse van die Baai was daar, die Rapers ook, en die wenners van die World Cup 2003. Hulle kom van vrek ver af. En dan lees een, “Oz Woz Here”, met ‘n klein landkaartjie van Australië. Die een wat my egter bybly is: “Ek het fyndraai geteer”, bygewerk en aangepas op die Klipdrift plakkaat. Groot woorde en stof tot nadenke. Ons het egter voor dooiemansdeur te staan gekom. Ronnie doen nie Maandae besigheid nie. Ons is nie die enigste droë bekke op ‘n moerse warm dag in die dorre karoo nie. Die vorige droëbek het droë karooklippies uitgepak, en dit lees: “Hoekom is julle toe?” En as ‘n finale statement is ‘n leë wynbottel weer toegekurk en dien as uitroepteken. Al waar ek by Ronnie se Sex Shop gelukkig raak, is ‘n vulgêre gedagte ná ‘n plakkaat wat lees: “Ronnie se sex shop – moenie verby steek nie.” Ek kyk af na my voete en wonder hard-op: “Hoekom bly mens in die Karoo?” Ek kyk na die gebreekte wynbottelkop wat half verskuil in die gruissand lê, probeer homself beskerm onder ‘n knotsige halwoestyn-adaptasie van ‘n plantjie. Ek skud my kop, ek wonder: Hoekom bly mens in die Karoo.
Ronnie se Sex Shop het natuurlik met seks bitter min te doen. Dis ‘n plattelandse kroeg, en not to be missed. Ronnie, wat die kop van ‘n man ken, het geweet enige man sal stop as hy dié vriendelike advertensie sien, weg van die stad waar mense jou ken. En dan, as Ronnie jou met ‘n slap riem gevang het, dan verkoop Ronnie vir jou net drank.
     ‘n Engelsman met ‘n rooi Opel Kadet hou langs ons stil, loer deur ons mikrobus se ruit en fluister groot-oog vir sy maat: “This is a high-tech machine.” Ek kan nie help om trots te voel nie. Dink by myself, boeta, jy het nog nie die helfte van die high-tech gesien wat hierdie microbus vandag dra nie. GPS, laptoppe, projektors, slideshows, kameras – tradisioneel en digitaal, en Lila se piepertjie kamera ook.
     “Everybody on board for Toyland”, sê Izak, toe ons vir die honderdste maal die sweetstrale van die 43-grade-in-die-skaduwee se hitte van ons voorkoppe afvee. Toyland, vir ons, vertaal in Uniondale. Vanselfsprekend kom die spook op. Ons wonder of sy loop. Maar toe ek mooi die woorde herreop van die AntonGoosen-liedjie, toe onthou ek dit was ‘n maanlignag oor paasnaweek. “Nee, guys, julle luck is uit, selfs om met ‘n spook gelukkig te raak.” Ons raak ook nie eens gelukkig by die Knip-‘n-Uiltjie Gastehuis nie. Die mense by wie ons bespreek het, het op ‘n verkeerde jaar se kalender gekyk. Het glo gaste oor die naweek verwag wat nie opgedaag het nie, verneem ons by die vrou van die inligtingskantoor.
     Uniondale is aan die slaap, besluit ons. “Knip seker nog ‘n uiltjie,” skinner Lila. “Slaap nog deur die nuwejaar. Nog by 2003,” sê Izak. Selfs die Crackling Rosie Pizza Parlour is toe. Ons het darem in die hoofstraat nog ‘n gastehuis gesien en draai die mikrobus se neus om. Ons slaap in die Townhouse Guesthouse. Gawe mense, met ‘n juweel van ‘n ou karoohuis, ‘n interessante bar, geelhoutvloere en ‘n heerlike boerebrêkfis die volgende more. Ná ‘n stewige braai by die swembad, lekker karooskaaptjops en wildswors uit Suidwes, en roosterbrood, met perskepiekels wat ons by die pampoenstal by Robertson gekoop het, raak almal van ons gelukkig en tevrede aan die slaap.

NOTA: Marike is 'n aantal jare gelede oorlede. Sy was van Piketberg. Hierdie bydrae is geplaas met die toestemming vanFerdinand Bruwer. Dit was oorspronklik geplaas in die kunstydskrif "Artesjok". Kry meer inligting oor haar loopbaan as internasionale fotograaf by http://www.profotos.com/prowindows/biography.cfm?member=372