Wednesday 4 January 2012

EK SPEEL WAGHOND IN LAAIPLEK

Die apie sit en droom in die mik van ‘n rooikrans-boom en die bobbejaan kom met sy stert so krom, en die apie sê vir hom: Weet jy wat sien ek nou die dag in Laaiplek! ‘n Omie parkeer sy bakkie en sleepwa, met twee koei-tannies agter op, oorkant die straat van my winkel.
     Eerste stap verby vyf seuntjies. My sesde sintuig laat my regop sit. Sowaar, hulle begin lelik praat met die koeie, waai die armpies. Ek sit stil, maar op my merke. Toe dreig hulle, en toe tel hulle klippe op.
     Nou kom die gedeelte wat ‘n mens nie behoort oor te vertel het nie, maar soos ‘n ander bekende storieverteller altyd gesê het: Ek wil dit sê en ek gaan dit sê. Ek pyl stil-stil soos ‘n Alsation oor die straat en voor die tweede klip val, is ek op hulle: Al wat ek wil doen, is om hulle aan die kele te gryp, maar ek hou maar by blaf. Ek skel hulle lelik en onverfynd, dreig hulle met geweld, bevraagteken met gepaste kragwoorde hulle gedrag en skreeu in moderne terme hulle moet sogenaamd voertsek huis toe, of ek draai hulle nekke om.
     Gedra my sleg, maar ek kry lekker.
     Hulle spat in alle rigtings. Met die terugstap kyk ek oor my skouer en sien hoe streep hulle op die sypaadjie agter my verby, in volle vaart op pad huis toe. Dis maklik om kinders te boelie. Dis ook maklik om diere te boelie, veral weerlose koeie wat opgehok is. Die skyf was duidelik te maklik en hulle kon dit nie weerstaan nie.
     Tweede stap verby ‘n volwasse man, maar dronk. Ek staan nou wag in die winkeldeur. Ja-nee, daar stop hy, swaai die arms vir die koeie – en begin hulle vloek. Buurvrou is ook nou al by (ek het baie aandag getrek). Sy het kontakte op dié dorp, vertel hom by naam hy beter nie moeilikheid soek met die diere nie, en hy steier gelukkig voort.
     Derde stap ‘n span tienerseuns spesiaal oor die straat na die koeie toe. Hulle staan kyk, koppe dié kant, dan daai kant. Ek staan reg. En daar begin die een op die fiets, lig die arm, skel die koei. Kan dit wees? Hulle ALMAL neuk met die diere. In die agtergrond stap vrouens en dogtertjies op die sypaadjie verby.
     Nou stap ek net ‘n paar tree nader, vou my arms en maak my stem dik: “Hei, los uit my koeie!” Hulle slenter onwillig weg.
     Net daarná kom die eienaar van dier en voertuig terug met sy yskas wat hy gou gaan koop het en met groot verligting sien ek hulle uit die dorp ry.
     Later die middag kom ‘n dogtertjie van die omgewing by my inloer. Sy kom gereeld kyk waarmee ek my besig hou. Hierdie keer bring sy ‘n jonger nefie saam. Gesels so bietjie, vertel my wat sy naam is. En om my gerus te stel dat hy nie met goed in die winkel sal peuter nie (ek moes háár al daaroor aanspreek), vertel sy dat hy ‘n soet kind is. Hy het mooi maniere ook – hy vloek nie eens sy ma nie.


NASKRIF:  Ek het hierdie storietjie in 2005 geskryf. Moenie dink dat ek Laaiplek op die Weskus sleggemaak het nie. Ek kan by-las oor wat ek gesien het toe ek op Piketberg in die Swartland gewoon het, en wat nou weer gebeur het in die Tsitsikamma in die Oos-Kaap, waar ek by my pa op die plaas kuier.
     Ek sit eendag in die kar voor die kafee in Piketberg en wag, hou die laaitie dop wat op die sypaadjie sit en wag vir sy ma wat ook in die kafee is. 'n Mooi labrador-tipe hond kom aangeslenter en die mannetjie roep hom al van ver af nader. Klink of hy wil maats maak met die hond. "Kom, hondjie! Kom, hondjie," kweel hy. En toe hondjie-lief naby genoeg is: "Kom hondjie, laat ek jou doodslaat!" Net so vriendelik. Sou hy geweld met aangetrokkenheid of liefde assosieer?
     My geliefde vertel my hy sit rook eergister-skemeraand so half agter die wasgoedlyn verskuil en kyk hoe een van die seuntjies op die plaas in die loopgang opstap, seker op pad na die melkery. Hy kom toe op dieselfde idee as van die ander hierbo genoem: Stap na die heining en skel met armpie-geswaai die koeie in die kamp langsaan op kleurvolle wyse vir slette uit. Dit was 'n mooi oomblik toe hy in sy geesdrif vergeet van die geëlektrifiseerde heining.
     Einde van die maand trek ek na Krakeelrivier in die Langkloof. Hoef ek te wonder wat ek daar gaan teëkom?



3 comments:

  1. Ek dink ek gaan vir my 'n shock-stok kry...

    ReplyDelete
  2. Baie snaaks, die aggressiewe kant van mense wat na vore kom met hulpelose diere, ne?

    ReplyDelete
  3. Ek vermoed die sesde dag van die skepping is nog nie verby nie: Die mens is nog lank nie klaar nie...

    ReplyDelete