Tuesday 14 August 2012

VOORSORG IS DIE MOEDER VAN BEPLANNING

Wie is jou grootste vyand, vra my vriendin op haar webwerf. Uitstel en afstel, sê sy, en lig dit toe met die Engelse sinonieme uit die Reader’s Digest Complete Wordfinder: Procrastination: temporize, play for time, hesitate, dilly-dally, shilly-shally. Sy noem dit die aakligste kanker wat jou tyd, jou entoesiasme en, uiteindelik, jou sukses steel. Vir solank as ek my verstand het, sukkel ek daarmee, kla sy.
Ons almal ken daai stryd.
Ek email terug dat dit ook vir my die vraagstuk van die week was. Dit is mos asof sulke dinge in die lug is soos verkoue en griep; of koors? Skielik het almal in my lewe ge-spring-clean, en dit heel buitenstyd. En die lewensvraag in hierdie tyd? Hoe kom ‘n mens by alles uit? Daar is so baie om te doen, maar so min tyd!
Net laasweek het iemand my vertel dat realiteit lê in wat jy doen – in dade (action: Pleging, aanvang, vergryping, verwesenliking (my eie wordfinding mission); die lys van nagevolge: Versugting (want ek sou so graag wou), verwerping (jy het belowe jy sou), verwyting (jy/ek het belowe jy/ek sou), vertraging (hoe gaan ek nóu ooit by alles uitkom); en verdomp (pleks ek dit gedoen het!).
Die slimmes het volgens kwantumfisika uitgewerk dat die handjies moet besig wees, want die werklikheid lê streng gesproke net in wat wat jy dóén. Nou weet ek hoekom werk beplanning nie – want voorsorg is die enigste ware vorm van beplanning. Net wat jy vandag doen, kan 'n invloed op more hê – nie wat jy vandag beplan en uitdink vir more nie, d.w.s. nie jou lysies nie. (Daai lysies! en lysies... die een ding na die ander word na die volgende en na die soveelste lysie oorgedra).
As jy beplan om more vroeg op te staan, moet jy vanaand jou wekker stel. As jy weet jy gaan sukkel om wakker te word, beter jy vanaand al jou hare was. As jy weet jy kan nie jou geliefde so vroeg pla deur die lig voor dagbreek aan te skakel nie, beter jy vanaand die nodigste regsit om in die donker te kan aantrek wanneer jy opstaan. En sit altyd in die aand skoene langs jou bed, want jy moet dalk in die donker nag in dolle vaart in die tuin in hardloop om jou kat uit ‘n bakleiery te red (beplanning vir die onvoorsienbare).
Leef paraat. Dink vooruit. Doen betyds. Hou uit terwyl jy kan. Verf nou, want môreoggend wanneer jy opstaan, is dit droog en kan jy die volgende laag skilder.
Al manier om dit reg te kry, is om die handjies op te lig. Dit voel tog nie beter om stil te sit nie. ‘n Vriendin het my vertel hoedat sy in haar tienerjare ‘n besluit geneem het om haar gebrek aan entoesiasme vir die lewe en sy eise aan te spreek: Jy kan soggens net sowel opstaan en die dag aanpak, want niks voel enigsins beter as jy net daar bly lê nie.
 ‘n Mens moet seker vir jouself uitmaak wat jou voorkeure en afkeure is, wat jou verpligtinge en verantwoordelikhede is, en wat jou drome en ideale is. En prakties wees: Doen iets.
Dit laat mens dink aan die gelykenis in die Bybel van die sewe wyse maagde en die ander onnosel bunch by die bruilof. Toe laasgenoemdes se lampies vrek omdat en hulle nie voorsorg getref het nie, het hulle die paartie gemis.
Die knelvraagstuk is natuurlik dat jy nie altyd kan voorsorg tref nie, want elke dag het genoeg van sy eie kwaad. ‘n Mens kry mos net ‘n kwart gedoen van wat jy gehoop het om te doen en net die helfte wat jy beplan het om te doen. ‘n Mens moet seker ook maar leer om in die oomblik te leef en te doen wat voor hande is. Vandag is Vrydag. Ek sou vanmiddag geskilder het. Ek sou om die waarheid te sê Maandag al geskilder het. Toe ek vanoggend regstaan met die kwas, lui die telefoon en die skrif verskyn aan die muur: Ek moet inspring en ‘n vriendin se lewe terug op die spoor help bring, want die dag het skielik met sy eie kwaad vorendag gekom.
Die mens wik en God beskik, is ‘n ware woord. Mens kan maar net van oomblik tot oomblik besluit wat jou prioriteite is, probeer doen wat voor hande is (dis voorsorg op sigself, want dis duidelik die pad wat die lewe met jou loop), en dan kan jy daai gebed van die Alkoholiste Anoniem gebruik – en aanpas:
“Gee my die kalmte om dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om dinge te verander wat verander moet word, en die wysheid om die een van die ander te onderskei; en die krag om nogtans aan te hou totdat ek dit verdomp regkry”.
Ek sal maar weer die kwas optel. Die vorige laag is droog en alles lê reg vir more. Nou moet ek net gaan slaap en opstaan: Die sesde dag. Ons almal sukkel maar om by alles uit te kom...

No comments:

Post a Comment