Monday 6 August 2012

VROUEDAG

Jongvroudag, vrouedag, ouvroudag. Elke geslag vroue vier dit anders. Jy het nie altyd tyd vir vrouedag nie. Laas het die agste Augustus al aangebreek, toe het ek nog nie eens daarby uitgekom om ietsie oor Wêreldvrouedag te skryf nie. Altyd besig, besig.

Ek e-pos toe gou 'n handvol vriendinne vir kommentaar om te hoor hoe hulle die dag graag sou wou gedenk. Die meeste van hulle het nie tyd gehad om my te antwoord nie. Dit was al asof almal besiger as ooit was. Gewoonlik gons die selfoon van oulike SMSe wat vroue rondstuur, maar ook op daardie front was dit stil. Laatmiddag bel ek toe maar 'n paar van hulle.

My een vriendin stel voor ons hou 'n Tienermeisiedag, wat vroue vroeg al bewus kan maak van hoe spesiaal hulle is en dat vrouwees hulle meer mag gee as hele Weermag. 'n Ander vriendin het ongelukkig 'n afspraak by 'n ginekoloog gehad en op so 'n dag wil jy liewer 'n sak oor jou kop trek. Ja, 'n vrou se dag, en haar lewe, het baie fasette.

Ons het die vorige Saterdag by ‘n vriendin se verjaarsdag gekoek en getee en gekraai van die lag, en later besin oor hoe die paartie so twintig of dertig jaar gelede sou verloop het. Party van ons was toe twintig, ander dertig; party vroeg ryp, party laat blommetjies. Elkeen het toentertyd op ‘n ander manier hand-uit geruk. Ek het altyd ‘n week verlof gevat en verjaarsdag gevier tot ek nog ‘n week verlof nodig gehad het om daarvan te herstel. Op elke foto in my album het ek ‘n “ek’s-hier-vir-die-bier” glimlag. Ek hang hand-om-die-lyf met die oulikste ouens. Daai tyd het ek so lekker verjaar, ek wou met alle geweld honderd jaar oud word.

Toe het ons uiteenlopende idees gehad van wat 'n lekker verjaarsdag behels het. Vir een was dit toe ook koek en tee, vir ‘n ander was dit ‘n hoed vol giggelkruid, vir ‘n ander ‘n bottel sjampanje (vir party verkieslik ‘n kis sjampanje!); of fliek en ‘n romantiese ete by kerslig, of die kosbare samesyn met kinders en familie.

Het jy toe ooit aan Vrouedag gedink?

Ek was al amper halfpad op pad honderd toe, toe ek my kop verbaas skud en bewus word dat daar iets soos Vrouedag bestaan - omtrent dieselfde tyd wat ek "Women who run with the wolves" gelees het en begin oplet het na wisselende hormoonvlakke. Teen daardie tyd moes ek 'n gebroke en uitgeputte hart al ‘n hele paar keer saam abba, totdat hy weer kans gesien het vir die lewenspad. Dis die tyd van die lewe dat jy begin jy mooi werk met jou energie, want dit kom nie meer uit ‘n onuitputbare bron soos jy gedink het nie.

Nou begin jy eers regtig leef. Jy giggel sonder kruid, gedra jou nes jy wil sonder die bevryding van alkohol, of spandeer jou verjaarsdag saam met jou maats want die kinders het hul beurt gehad.

Ek bel toe ook my vriendin wat my skewe trui vir my regbrei. Ja, sy het gehoor dis Wêreldvrouedag, maar elke dag is mos vrouedag, want vroue dra elke dag die hele wêreld op hul skouers. Ek stem heelhartig saam. Vra jy vir vroue hoe hulle Vrouedag sou spandeer as hulle die dag kon afhê, hoor jy dadelik van alles wat hulle sou wou doen. Dit lyk vir my of vroue NOG besiger sal wees as hulle kan doen wat hulle eintlik graag wil doen, as wat hulle alles doen wat hulle elke dag MOET doen.

My vriendin wat voel ons moet 'n Tienerdag vir vroue hou, wys daarop dat 'n amptelike Vrouedag tog maar deur die politici misbruik word om ter wille van mediablootstelling skynheilige uitsprake te maak, waarop party van ons juig en ander in wantroue en ongeloof ons koppe skud. Die mans piepie hul straaltjie en die vrouens sit op hul tak en sing hul liedjie [en ek skryf op my blog], maar is daar werklik sprake van emansipasie in ons samelewing, vra sy. Die vrou wat byvoorbeeld tot die politiek toetree, verwaarloos dalk haar man en gesin. Het sy dan werklik iets bereik?

Sy vra nog 'n goeie vraag: Is Vrouedag soos ons samelewing dit bemark ook bedoel vir die dronkgat-ma wat haar kinders weggooi, vir die vroue wat kaalvoet (en uiterlik onverfynd) oor die Drakensberg getrek het; of is dit 'n oppervakkige instelling wat kos is vir lekker koerantopskrifte en tydskrifartikels en party vroue die geleentheid bied om 'n paar honderd rand te betaal om 'n fraaie tee in die stadsaal te geniet? (Hopelik ten bate van die dronkgat-ma en haar kinders.)

Laat ons onthou Vrouedag is vir alle vroue. Hoe jy die dag gedenk, spreek van wie jy is, hoe jy jouself ag. Vir my het die paar geselsies met my vriendinne die kroon op die dag gespan. Soos op elke ander dag, is dit die kontak met my vriendinne wat my wêreld reg hou.

Mag Vrouedag hierdie keer minder besig wees vir almal. Maak tyd daarvoor.

No comments:

Post a Comment