Wednesday 4 January 2012

SLANGPRAATJIES

Ons het gister die vierde slang in 'n week by ons huis gekry. 'n Week gelede, op die dag wat ons die stukkie oop veld tussen die huis en die sipreslaning skoon gesny het, het 'n Kaapse Kobra die hasepad via die binnehof gekies. Ons het vermoed hy kon in die voorste stoor ingegaan het, want hy het verdwyn onder 'n stapel hout wat langs die ingang gelê het. Ons rook toe maar die stoor uit en hoop hy is weg.

Ons het net begin ontspan, toe gewaar die tuinhulp 'n grote slang by die hek van die mense oorkant ons. Die het weer verdwyn, maar later tevoorskyn gekom onder 'n paar planke langs ons voordeur. Ons het duidelik nog te veel goed wat rondlê.

Ons het navraag gedoen en uitgevind dat kobras in pare hou en blykbaar baie territoriaal is. So die tuinhulp het dalk nie dieselfde slang gesien nie, maar 'n paartjie. Yslike goed. ‘n Mens hoop hulle het nie so oud en groot geword van onnosel wees en rondhang by mense nie. Ons het sekerlik te veel bossies en gras op die plot afgemaai en hopies verskuif, soos die bakstene wat voor gestapel was, en ons het die dolle-tollebeelde van die beeldhouer wat eers hier gewoon het, op 'n hoop gerol om meer parkeerplek onder die akkerboom te maak.

Slang nommer vier het gisteroggend in die voorste stoor uitgedop toe ons daar laat skoonmaak en regpak en indra en opstapel. Nagadder. Brrr, ek het juis sedert die eerste slang so aan nagadders gedink wanneer ek die honde saans agter uitvat, en jou wragtag, hier is inderdaad een in die omtrek. Hy is in die histeriese slangjag ernstig beseer en ons sal hom seker eendag vind onder (nogeens) die stapel hout waaronder hy verdwyn het.

Tydens gisternoggend se slangjag (ga, hier check ek eers by my voete onder die tafel!) was ‘n vorige eienaar van die huis juis hier om kennis te maak. Hy sê hy het nooit slange teegekom toe hy hier gewoon het nie. Ons gaan maar malva's plant, want dit hou glo slange weg. Dit herinner my aan die een poësie-klas op universiteit, toe die lektrise die verskil tussen 'n vergelyking en 'n beeld wou verduidelik. Sy gebruik toe die voorbeeld van "my nooi is soos 'n malva" en "my nooi is 'n malva". Ek was destyds nog te skaam om te praat, maar een van die mans het haar ingelig dat malva's slange weghou...



Ek sien die katte lê nou saam en hou fluistergesprekke.  Ek dink hulle beraam planne om die slange te vang. Net voordat ons die slang by die voordeur gekry het, was die twee katte saam in die workshop en ek het nog gevra "wat maak julle hier, soek julle die slang?". Hul vergadering later die middag agter by die klipstoor, waar mens sekerlik ook na dese 'n slang kan verwag, was sekerlik daaroor. Ek sal hulle nou maar dophou. Ek is gewoond die ou mannetjie en sy oorlede sus het niks gemis nie. As hulle skielik aanhoudend op 'n snaakse plek gaan lê, kan jy maar weet hulle gaan iets vang - al is dit weke later. Ek vermoed die nuwe jongeling is nou in opleiding by sy ta.

Kobravleis kos glo $600 vir ‘n stuk van so 30cm lank op Bid-or-Buy. ‘n Mens vermoed dis weer die Chinese wat mal pryse vir grillerige kos betaal - maar ons sal darem nie ons vriende so baie charge as hulle 'n lekker Afrika-potjie wil maak nie. Hulle moet asseblief net self die slang kom vang...


Ek vertrou maar die slange smag na son, vlaktes, spasie, berg en vrede - en kies die hasepad deur die veld, af rivier toe, om die koppie, en kloof af, en sommer weer berg op aan die ander kant van die vallei. Ek dink werklik ons het hul habitat versteur met die grasmaaiery. Wat kan beteken hulle was dalk maar altyd hier rond, maar wou nie moeilikheid maak nie.

'n Vriendin van my het teen die hange van die Piketberg in die fynbos gewoon en daar was ook 'n Kobra by haar huis. Hulle is nie moeilikheidmakers, soos die Swart Mamba nie, maar op die ou end het hy op die stoep by die geselskap kom aansluit wanneer sy kuiermense kry. Te mak geraak en  'n ongeluk kon gebeur het. Hulle het hom êrens anders hervestig.

Dit het egter nie gewerk met die Klaasneusmuise, wat dieselfde gedoen het nie: Hulle het byvoorbeeld sommer op die boekrak tussen die ornamente plaasgeneem wanneer die grend tannie van die familie kom tee drink. Hulle het een van die gesin Klase eendag ver die veld in gedra om te hervestig, maar toe hulle hom neersit, het hy woeps in die man se stewel ingespring om saam terug huis toe te gaan.

Ek het ook daar gewoon en moes talle van die Klase self snags in die veld indra en in die vlei gaan sit, omdat ek die fout gemaak het om eenkeer vir die katte te beveel om te LOS toe die muis die huis inkom. Toe het hulle geweier om ooit weer een te vang en ek was baie spyt. Nou swyg ek maar as katjie sy ding doen, tensy dit 'n voëltjie is, wat nog gered kan word en nie by ons in die huis wil kom woon nie. Hulle kan ook maar slang vang...



1 comment:

  1. My ouma het ons ook altyd vertel van die malvas wat die slange weghou - hulle plaas was in Pietersburg (toe dit nog Pietersburg was en so aan). My pa beweer dat my ouma 'n grens reg rondom die huis gebou het met malvas en dat hulle nie eers een keer 'n slang binne daai grens gekry het nie. Hoop dit werk vir jou ook.

    ReplyDelete