Sunday, 9 September 2012

Gedig vir Moeder Aarde

O, Aarde!

Hierdie planeet gons.
Stel jou voor
die magtige dreuning
van al wat leef en beef
en skuiling weef.
Stel jou voor
hoe ver weergalm
die telg se gil,
‘n motvlerk wat tril,
en alles tussen-in
wat in verwildering
aan gorrels ruk
en in gebed op gode gil.
Op hierdie planeet van ons.


Saturday, 8 September 2012

‘N OGGEND VIR KOFFIE

Land voor die rekenaar vanoggend, met my lang beker koffie - gelukkig met 'n dekseltjie. Want ek klap hom in die lug in, gryp hom terug, sit hom neer en klap hom nog 'n keer. Vang hom wragtag weer. Nou het ek éérs koffie nodig.
     Veral toe ek sien die rekenaarskerm is nou skielik dood. Vroeërjare sou ek so ‘n skerm (nes die koffie) kon geklap het dat hy sterretjies maak en liewer tevoorskyn kom as die risiko van nog 'n klap loop.
     Nog vroeër was daar die handtikmasjiene. Toe kon 'n mens met 'n aggressiewe aanslag jou stres op die ou stywe toetse uithaal terwyl jy tik. By die ou Transvaler-koerant moes hulle die tikmasjiene glo nogtans op die lessenaars vasketting, omdat die joernaliste op saktyd geneig was om hulle uit frustrasie by die venster uit te gooi.
     Toe rekenaars nog klein swart skermpies met groen skrif gehad het, het ek self daagliks die voorreg gehad om so 'n rekenaar se koppie met 'n lang klap van ver agter te slaat dat hy tol, en dan 'n soortgelyke linker ook, tot hy luister. Dit was soos ondervraging onder druk en dit was aanvaarde praktyk by die koerant waar ek gewerk het. Eers wanneer jy hom geklap het totdat hy flou word, het jy die rekenaarafdeling gebel om noodhulp toe te pas.
     My nuwe LCD-skerm is van swakker stoffasie gemaak. Hy sou nooit deur die rekenaar-struggle gekom het soos daai ou groenes nie. Ek vat my koffiekoppie dus ferm vas, maan myself tot kalmte en bedaardheid, en bekyk die dooie skermpie. My stoffasie is vanoggend self nie van die sterkste nie en gee hom 'n terapeutiese klappie op die boonste randjie (foei, dis maar 'n ou plat koppie, niks plek eens vir 'n plathand teen die kant, wat 'n rand is nie). Hy bewe.
     Ha-nou, ounooi; hokaai, hokaai. Shhh-shh-shh...
     Ek sien die ogies is styf toegknyp, jy sien nie eens die blou liggie aan die onderkant nie. Diagnose: Toe die digbundel op die lessenaar uit die pad van die koffie moes spring, het hy teen die rekenaarskerm se ry geheime knoppies gestamp. Ek kan met of sonder bril nooit uitmaak waarvoor daai gekodeerde sogenaamde knoppies is nie en vee dus liefs liggies met die vinger oor die hele rytjie. En dit werk.
     Nie deur die krag of geweld nie, is die Bybel se raad. Daaraan is ek selde lus om my te steur, maar kom dit by nuwerwetse rekenaars, het jy geen keuse nie. Goed raak nou darem te veel soos mens (vat nou byvoorbeeld daai digbundel netnou), en rekenaars veral.
     Volgende keer vat ek hom health shop toe.






     Volgende keer vat ek hom health shop toe.


Saturday, 18 August 2012

EK WORD 'N LIEDJIESKRYWER

Ek is seker ek kan lirieke vir weskusliedjies skryf, besef ek een oggend op Velddrif. Ek lê vroeg die more en babbel met die honde en katte en my naaste wat nog baie deur die slaap is. So half wakker kan hy met hoogs vermaaklike bog vorendag kom. Ons maak rympies en vermaak onsself ten koste van ons dorp. Ons sing selfs. Gou het ons 'n lysie van moontlike liedjies.
     Ek sou graag wil werk aan 'n Velddrif-ballade - "Wie't my outboard gesteel?" Ek hoor reeds in my agterkop die refrein: "Ha-hum", vryf die speurder ingedagte oor sy baard wanneer die ontknoping van die saak hom telkens ontwyk ("ha-hum, ha-hum?"). Hierdie liedjie het nie 'n einde nie. Jy sing tot jou asem op is, en wanneer daar weer 'n outboard gesteel word, gebruik jy net ander name, tyd en plek en gaan sit weer noot in by die aanklagkantoor.
     Dis nou nie dat 'n mens op Velddrif baie sukkel met misdaad nie, maar die volgende song sal die polisie ongelukkig ook baie moet aanhoor: "Ek smag na stilte". Jy sing hom met trane oor die wange wanneer jy terug is by die Polisie nadat jy drie weke na mekaar vir hulle "Ghwarra-doef-doef" gaan sing het, omdat daar weer 'n braaiery en lawaaiery 'n kilometer straat-af van jou huis weerklink.
     As die polisie op die lang duur dit nie regkry om die Wet op Buurmanskap af te dwing nie, skryf ek vir jou die "Knak-song", wanneer jou moed breek en jy jou huis op die mark sit.
     Ander moontlike titels is "Waar kuier Piet vanaand?" en "My parras is weg" (tuin-parras!). Ek wil darem ook 'n romantiese liedjie doen, soos "Girls in Rugbytruie", iets wat Hannah Montana moontlik kan sing.
     Die Antwoord sal dalk in heelwat van die liedjies belangstel, veral omdat die refreine baie voorspelbaar is (die dorp is bekend vir sy gekruide taal). Dit bring ons by die strikvraag of 'n mens die liedjies sal kan publiseer of uitsaai. Weer eens sal Die Antwoord dalk die antwoord wees.




Tuesday, 14 August 2012

VOORSORG IS DIE MOEDER VAN BEPLANNING

Wie is jou grootste vyand, vra my vriendin op haar webwerf. Uitstel en afstel, sê sy, en lig dit toe met die Engelse sinonieme uit die Reader’s Digest Complete Wordfinder: Procrastination: temporize, play for time, hesitate, dilly-dally, shilly-shally. Sy noem dit die aakligste kanker wat jou tyd, jou entoesiasme en, uiteindelik, jou sukses steel. Vir solank as ek my verstand het, sukkel ek daarmee, kla sy.
Ons almal ken daai stryd.
Ek email terug dat dit ook vir my die vraagstuk van die week was. Dit is mos asof sulke dinge in die lug is soos verkoue en griep; of koors? Skielik het almal in my lewe ge-spring-clean, en dit heel buitenstyd. En die lewensvraag in hierdie tyd? Hoe kom ‘n mens by alles uit? Daar is so baie om te doen, maar so min tyd!
Net laasweek het iemand my vertel dat realiteit lê in wat jy doen – in dade (action: Pleging, aanvang, vergryping, verwesenliking (my eie wordfinding mission); die lys van nagevolge: Versugting (want ek sou so graag wou), verwerping (jy het belowe jy sou), verwyting (jy/ek het belowe jy/ek sou), vertraging (hoe gaan ek nóu ooit by alles uitkom); en verdomp (pleks ek dit gedoen het!).
Die slimmes het volgens kwantumfisika uitgewerk dat die handjies moet besig wees, want die werklikheid lê streng gesproke net in wat wat jy dóén. Nou weet ek hoekom werk beplanning nie – want voorsorg is die enigste ware vorm van beplanning. Net wat jy vandag doen, kan 'n invloed op more hê – nie wat jy vandag beplan en uitdink vir more nie, d.w.s. nie jou lysies nie. (Daai lysies! en lysies... die een ding na die ander word na die volgende en na die soveelste lysie oorgedra).
As jy beplan om more vroeg op te staan, moet jy vanaand jou wekker stel. As jy weet jy gaan sukkel om wakker te word, beter jy vanaand al jou hare was. As jy weet jy kan nie jou geliefde so vroeg pla deur die lig voor dagbreek aan te skakel nie, beter jy vanaand die nodigste regsit om in die donker te kan aantrek wanneer jy opstaan. En sit altyd in die aand skoene langs jou bed, want jy moet dalk in die donker nag in dolle vaart in die tuin in hardloop om jou kat uit ‘n bakleiery te red (beplanning vir die onvoorsienbare).
Leef paraat. Dink vooruit. Doen betyds. Hou uit terwyl jy kan. Verf nou, want môreoggend wanneer jy opstaan, is dit droog en kan jy die volgende laag skilder.
Al manier om dit reg te kry, is om die handjies op te lig. Dit voel tog nie beter om stil te sit nie. ‘n Vriendin het my vertel hoedat sy in haar tienerjare ‘n besluit geneem het om haar gebrek aan entoesiasme vir die lewe en sy eise aan te spreek: Jy kan soggens net sowel opstaan en die dag aanpak, want niks voel enigsins beter as jy net daar bly lê nie.
 ‘n Mens moet seker vir jouself uitmaak wat jou voorkeure en afkeure is, wat jou verpligtinge en verantwoordelikhede is, en wat jou drome en ideale is. En prakties wees: Doen iets.
Dit laat mens dink aan die gelykenis in die Bybel van die sewe wyse maagde en die ander onnosel bunch by die bruilof. Toe laasgenoemdes se lampies vrek omdat en hulle nie voorsorg getref het nie, het hulle die paartie gemis.
Die knelvraagstuk is natuurlik dat jy nie altyd kan voorsorg tref nie, want elke dag het genoeg van sy eie kwaad. ‘n Mens kry mos net ‘n kwart gedoen van wat jy gehoop het om te doen en net die helfte wat jy beplan het om te doen. ‘n Mens moet seker ook maar leer om in die oomblik te leef en te doen wat voor hande is. Vandag is Vrydag. Ek sou vanmiddag geskilder het. Ek sou om die waarheid te sê Maandag al geskilder het. Toe ek vanoggend regstaan met die kwas, lui die telefoon en die skrif verskyn aan die muur: Ek moet inspring en ‘n vriendin se lewe terug op die spoor help bring, want die dag het skielik met sy eie kwaad vorendag gekom.
Die mens wik en God beskik, is ‘n ware woord. Mens kan maar net van oomblik tot oomblik besluit wat jou prioriteite is, probeer doen wat voor hande is (dis voorsorg op sigself, want dis duidelik die pad wat die lewe met jou loop), en dan kan jy daai gebed van die Alkoholiste Anoniem gebruik – en aanpas:
“Gee my die kalmte om dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om dinge te verander wat verander moet word, en die wysheid om die een van die ander te onderskei; en die krag om nogtans aan te hou totdat ek dit verdomp regkry”.
Ek sal maar weer die kwas optel. Die vorige laag is droog en alles lê reg vir more. Nou moet ek net gaan slaap en opstaan: Die sesde dag. Ons almal sukkel maar om by alles uit te kom...

Monday, 6 August 2012

VROUEDAG

Jongvroudag, vrouedag, ouvroudag. Elke geslag vroue vier dit anders. Jy het nie altyd tyd vir vrouedag nie. Laas het die agste Augustus al aangebreek, toe het ek nog nie eens daarby uitgekom om ietsie oor Wêreldvrouedag te skryf nie. Altyd besig, besig.

Ek e-pos toe gou 'n handvol vriendinne vir kommentaar om te hoor hoe hulle die dag graag sou wou gedenk. Die meeste van hulle het nie tyd gehad om my te antwoord nie. Dit was al asof almal besiger as ooit was. Gewoonlik gons die selfoon van oulike SMSe wat vroue rondstuur, maar ook op daardie front was dit stil. Laatmiddag bel ek toe maar 'n paar van hulle.

My een vriendin stel voor ons hou 'n Tienermeisiedag, wat vroue vroeg al bewus kan maak van hoe spesiaal hulle is en dat vrouwees hulle meer mag gee as hele Weermag. 'n Ander vriendin het ongelukkig 'n afspraak by 'n ginekoloog gehad en op so 'n dag wil jy liewer 'n sak oor jou kop trek. Ja, 'n vrou se dag, en haar lewe, het baie fasette.

Ons het die vorige Saterdag by ‘n vriendin se verjaarsdag gekoek en getee en gekraai van die lag, en later besin oor hoe die paartie so twintig of dertig jaar gelede sou verloop het. Party van ons was toe twintig, ander dertig; party vroeg ryp, party laat blommetjies. Elkeen het toentertyd op ‘n ander manier hand-uit geruk. Ek het altyd ‘n week verlof gevat en verjaarsdag gevier tot ek nog ‘n week verlof nodig gehad het om daarvan te herstel. Op elke foto in my album het ek ‘n “ek’s-hier-vir-die-bier” glimlag. Ek hang hand-om-die-lyf met die oulikste ouens. Daai tyd het ek so lekker verjaar, ek wou met alle geweld honderd jaar oud word.

Toe het ons uiteenlopende idees gehad van wat 'n lekker verjaarsdag behels het. Vir een was dit toe ook koek en tee, vir ‘n ander was dit ‘n hoed vol giggelkruid, vir ‘n ander ‘n bottel sjampanje (vir party verkieslik ‘n kis sjampanje!); of fliek en ‘n romantiese ete by kerslig, of die kosbare samesyn met kinders en familie.

Het jy toe ooit aan Vrouedag gedink?

Ek was al amper halfpad op pad honderd toe, toe ek my kop verbaas skud en bewus word dat daar iets soos Vrouedag bestaan - omtrent dieselfde tyd wat ek "Women who run with the wolves" gelees het en begin oplet het na wisselende hormoonvlakke. Teen daardie tyd moes ek 'n gebroke en uitgeputte hart al ‘n hele paar keer saam abba, totdat hy weer kans gesien het vir die lewenspad. Dis die tyd van die lewe dat jy begin jy mooi werk met jou energie, want dit kom nie meer uit ‘n onuitputbare bron soos jy gedink het nie.

Nou begin jy eers regtig leef. Jy giggel sonder kruid, gedra jou nes jy wil sonder die bevryding van alkohol, of spandeer jou verjaarsdag saam met jou maats want die kinders het hul beurt gehad.

Ek bel toe ook my vriendin wat my skewe trui vir my regbrei. Ja, sy het gehoor dis Wêreldvrouedag, maar elke dag is mos vrouedag, want vroue dra elke dag die hele wêreld op hul skouers. Ek stem heelhartig saam. Vra jy vir vroue hoe hulle Vrouedag sou spandeer as hulle die dag kon afhê, hoor jy dadelik van alles wat hulle sou wou doen. Dit lyk vir my of vroue NOG besiger sal wees as hulle kan doen wat hulle eintlik graag wil doen, as wat hulle alles doen wat hulle elke dag MOET doen.

My vriendin wat voel ons moet 'n Tienerdag vir vroue hou, wys daarop dat 'n amptelike Vrouedag tog maar deur die politici misbruik word om ter wille van mediablootstelling skynheilige uitsprake te maak, waarop party van ons juig en ander in wantroue en ongeloof ons koppe skud. Die mans piepie hul straaltjie en die vrouens sit op hul tak en sing hul liedjie [en ek skryf op my blog], maar is daar werklik sprake van emansipasie in ons samelewing, vra sy. Die vrou wat byvoorbeeld tot die politiek toetree, verwaarloos dalk haar man en gesin. Het sy dan werklik iets bereik?

Sy vra nog 'n goeie vraag: Is Vrouedag soos ons samelewing dit bemark ook bedoel vir die dronkgat-ma wat haar kinders weggooi, vir die vroue wat kaalvoet (en uiterlik onverfynd) oor die Drakensberg getrek het; of is dit 'n oppervakkige instelling wat kos is vir lekker koerantopskrifte en tydskrifartikels en party vroue die geleentheid bied om 'n paar honderd rand te betaal om 'n fraaie tee in die stadsaal te geniet? (Hopelik ten bate van die dronkgat-ma en haar kinders.)

Laat ons onthou Vrouedag is vir alle vroue. Hoe jy die dag gedenk, spreek van wie jy is, hoe jy jouself ag. Vir my het die paar geselsies met my vriendinne die kroon op die dag gespan. Soos op elke ander dag, is dit die kontak met my vriendinne wat my wêreld reg hou.

Mag Vrouedag hierdie keer minder besig wees vir almal. Maak tyd daarvoor.

Wednesday, 4 January 2012

SLANGPRAATJIES

Ons het gister die vierde slang in 'n week by ons huis gekry. 'n Week gelede, op die dag wat ons die stukkie oop veld tussen die huis en die sipreslaning skoon gesny het, het 'n Kaapse Kobra die hasepad via die binnehof gekies. Ons het vermoed hy kon in die voorste stoor ingegaan het, want hy het verdwyn onder 'n stapel hout wat langs die ingang gelê het. Ons rook toe maar die stoor uit en hoop hy is weg.

Ons het net begin ontspan, toe gewaar die tuinhulp 'n grote slang by die hek van die mense oorkant ons. Die het weer verdwyn, maar later tevoorskyn gekom onder 'n paar planke langs ons voordeur. Ons het duidelik nog te veel goed wat rondlê.

Ons het navraag gedoen en uitgevind dat kobras in pare hou en blykbaar baie territoriaal is. So die tuinhulp het dalk nie dieselfde slang gesien nie, maar 'n paartjie. Yslike goed. ‘n Mens hoop hulle het nie so oud en groot geword van onnosel wees en rondhang by mense nie. Ons het sekerlik te veel bossies en gras op die plot afgemaai en hopies verskuif, soos die bakstene wat voor gestapel was, en ons het die dolle-tollebeelde van die beeldhouer wat eers hier gewoon het, op 'n hoop gerol om meer parkeerplek onder die akkerboom te maak.

Slang nommer vier het gisteroggend in die voorste stoor uitgedop toe ons daar laat skoonmaak en regpak en indra en opstapel. Nagadder. Brrr, ek het juis sedert die eerste slang so aan nagadders gedink wanneer ek die honde saans agter uitvat, en jou wragtag, hier is inderdaad een in die omtrek. Hy is in die histeriese slangjag ernstig beseer en ons sal hom seker eendag vind onder (nogeens) die stapel hout waaronder hy verdwyn het.

Tydens gisternoggend se slangjag (ga, hier check ek eers by my voete onder die tafel!) was ‘n vorige eienaar van die huis juis hier om kennis te maak. Hy sê hy het nooit slange teegekom toe hy hier gewoon het nie. Ons gaan maar malva's plant, want dit hou glo slange weg. Dit herinner my aan die een poësie-klas op universiteit, toe die lektrise die verskil tussen 'n vergelyking en 'n beeld wou verduidelik. Sy gebruik toe die voorbeeld van "my nooi is soos 'n malva" en "my nooi is 'n malva". Ek was destyds nog te skaam om te praat, maar een van die mans het haar ingelig dat malva's slange weghou...



Ek sien die katte lê nou saam en hou fluistergesprekke.  Ek dink hulle beraam planne om die slange te vang. Net voordat ons die slang by die voordeur gekry het, was die twee katte saam in die workshop en ek het nog gevra "wat maak julle hier, soek julle die slang?". Hul vergadering later die middag agter by die klipstoor, waar mens sekerlik ook na dese 'n slang kan verwag, was sekerlik daaroor. Ek sal hulle nou maar dophou. Ek is gewoond die ou mannetjie en sy oorlede sus het niks gemis nie. As hulle skielik aanhoudend op 'n snaakse plek gaan lê, kan jy maar weet hulle gaan iets vang - al is dit weke later. Ek vermoed die nuwe jongeling is nou in opleiding by sy ta.

Kobravleis kos glo $600 vir ‘n stuk van so 30cm lank op Bid-or-Buy. ‘n Mens vermoed dis weer die Chinese wat mal pryse vir grillerige kos betaal - maar ons sal darem nie ons vriende so baie charge as hulle 'n lekker Afrika-potjie wil maak nie. Hulle moet asseblief net self die slang kom vang...


Ek vertrou maar die slange smag na son, vlaktes, spasie, berg en vrede - en kies die hasepad deur die veld, af rivier toe, om die koppie, en kloof af, en sommer weer berg op aan die ander kant van die vallei. Ek dink werklik ons het hul habitat versteur met die grasmaaiery. Wat kan beteken hulle was dalk maar altyd hier rond, maar wou nie moeilikheid maak nie.

'n Vriendin van my het teen die hange van die Piketberg in die fynbos gewoon en daar was ook 'n Kobra by haar huis. Hulle is nie moeilikheidmakers, soos die Swart Mamba nie, maar op die ou end het hy op die stoep by die geselskap kom aansluit wanneer sy kuiermense kry. Te mak geraak en  'n ongeluk kon gebeur het. Hulle het hom êrens anders hervestig.

Dit het egter nie gewerk met die Klaasneusmuise, wat dieselfde gedoen het nie: Hulle het byvoorbeeld sommer op die boekrak tussen die ornamente plaasgeneem wanneer die grend tannie van die familie kom tee drink. Hulle het een van die gesin Klase eendag ver die veld in gedra om te hervestig, maar toe hulle hom neersit, het hy woeps in die man se stewel ingespring om saam terug huis toe te gaan.

Ek het ook daar gewoon en moes talle van die Klase self snags in die veld indra en in die vlei gaan sit, omdat ek die fout gemaak het om eenkeer vir die katte te beveel om te LOS toe die muis die huis inkom. Toe het hulle geweier om ooit weer een te vang en ek was baie spyt. Nou swyg ek maar as katjie sy ding doen, tensy dit 'n voëltjie is, wat nog gered kan word en nie by ons in die huis wil kom woon nie. Hulle kan ook maar slang vang...



EK SPEEL WAGHOND IN LAAIPLEK

Die apie sit en droom in die mik van ‘n rooikrans-boom en die bobbejaan kom met sy stert so krom, en die apie sê vir hom: Weet jy wat sien ek nou die dag in Laaiplek! ‘n Omie parkeer sy bakkie en sleepwa, met twee koei-tannies agter op, oorkant die straat van my winkel.
     Eerste stap verby vyf seuntjies. My sesde sintuig laat my regop sit. Sowaar, hulle begin lelik praat met die koeie, waai die armpies. Ek sit stil, maar op my merke. Toe dreig hulle, en toe tel hulle klippe op.
     Nou kom die gedeelte wat ‘n mens nie behoort oor te vertel het nie, maar soos ‘n ander bekende storieverteller altyd gesê het: Ek wil dit sê en ek gaan dit sê. Ek pyl stil-stil soos ‘n Alsation oor die straat en voor die tweede klip val, is ek op hulle: Al wat ek wil doen, is om hulle aan die kele te gryp, maar ek hou maar by blaf. Ek skel hulle lelik en onverfynd, dreig hulle met geweld, bevraagteken met gepaste kragwoorde hulle gedrag en skreeu in moderne terme hulle moet sogenaamd voertsek huis toe, of ek draai hulle nekke om.
     Gedra my sleg, maar ek kry lekker.
     Hulle spat in alle rigtings. Met die terugstap kyk ek oor my skouer en sien hoe streep hulle op die sypaadjie agter my verby, in volle vaart op pad huis toe. Dis maklik om kinders te boelie. Dis ook maklik om diere te boelie, veral weerlose koeie wat opgehok is. Die skyf was duidelik te maklik en hulle kon dit nie weerstaan nie.
     Tweede stap verby ‘n volwasse man, maar dronk. Ek staan nou wag in die winkeldeur. Ja-nee, daar stop hy, swaai die arms vir die koeie – en begin hulle vloek. Buurvrou is ook nou al by (ek het baie aandag getrek). Sy het kontakte op dié dorp, vertel hom by naam hy beter nie moeilikheid soek met die diere nie, en hy steier gelukkig voort.
     Derde stap ‘n span tienerseuns spesiaal oor die straat na die koeie toe. Hulle staan kyk, koppe dié kant, dan daai kant. Ek staan reg. En daar begin die een op die fiets, lig die arm, skel die koei. Kan dit wees? Hulle ALMAL neuk met die diere. In die agtergrond stap vrouens en dogtertjies op die sypaadjie verby.
     Nou stap ek net ‘n paar tree nader, vou my arms en maak my stem dik: “Hei, los uit my koeie!” Hulle slenter onwillig weg.
     Net daarná kom die eienaar van dier en voertuig terug met sy yskas wat hy gou gaan koop het en met groot verligting sien ek hulle uit die dorp ry.
     Later die middag kom ‘n dogtertjie van die omgewing by my inloer. Sy kom gereeld kyk waarmee ek my besig hou. Hierdie keer bring sy ‘n jonger nefie saam. Gesels so bietjie, vertel my wat sy naam is. En om my gerus te stel dat hy nie met goed in die winkel sal peuter nie (ek moes háár al daaroor aanspreek), vertel sy dat hy ‘n soet kind is. Hy het mooi maniere ook – hy vloek nie eens sy ma nie.


NASKRIF:  Ek het hierdie storietjie in 2005 geskryf. Moenie dink dat ek Laaiplek op die Weskus sleggemaak het nie. Ek kan by-las oor wat ek gesien het toe ek op Piketberg in die Swartland gewoon het, en wat nou weer gebeur het in die Tsitsikamma in die Oos-Kaap, waar ek by my pa op die plaas kuier.
     Ek sit eendag in die kar voor die kafee in Piketberg en wag, hou die laaitie dop wat op die sypaadjie sit en wag vir sy ma wat ook in die kafee is. 'n Mooi labrador-tipe hond kom aangeslenter en die mannetjie roep hom al van ver af nader. Klink of hy wil maats maak met die hond. "Kom, hondjie! Kom, hondjie," kweel hy. En toe hondjie-lief naby genoeg is: "Kom hondjie, laat ek jou doodslaat!" Net so vriendelik. Sou hy geweld met aangetrokkenheid of liefde assosieer?
     My geliefde vertel my hy sit rook eergister-skemeraand so half agter die wasgoedlyn verskuil en kyk hoe een van die seuntjies op die plaas in die loopgang opstap, seker op pad na die melkery. Hy kom toe op dieselfde idee as van die ander hierbo genoem: Stap na die heining en skel met armpie-geswaai die koeie in die kamp langsaan op kleurvolle wyse vir slette uit. Dit was 'n mooi oomblik toe hy in sy geesdrif vergeet van die geëlektrifiseerde heining.
     Einde van die maand trek ek na Krakeelrivier in die Langkloof. Hoef ek te wonder wat ek daar gaan teëkom?



OOMBLIK VAN WAARHEID (Velddrif, Desember 2005)


Nuut op die dorp, hoor ek die ouetehuis is so oulik en gaan pastorie toe om te hoor of daar dalk ‘n plekkie vir my ma is. Dis tjoepstil toe ek aan die voordeur klop, maar toe kom 'n jongeling om die hoek en ek vra hom of die baas van die plaas tuis is, menende dis seker die dominee se seun. "Ek's baas van die plaas", sê hy. Toe hy nader kom, sien ek toe dis inderdaad 'n baaaie oulike Kleinbasie Dominee. Hy nooi my in, maak my sit, neem plaas oorkant my en kyk my reguit in die oë soos dit 'n predikant betaam. Ek weet nie of ek my oge moet laat sak om my onvanpaste gedagtes te verdoesel en of ek vir hom moet knipoog nie. Ek vertel toe ek kom verneem oor die ouetehuis. "Vir uself?" vra hy mooi en vriendelik. Nodeloos om te sê, ‘n paar dae later was my motgevrete half-grys haarslierte rooi gekleur en nie veel later nie kort geknip – om die gelaat 'n bietjie te lig.




EK BLOOS OP 50 OOR LO BROEKIE

Ek maak laatmiddag op die ingewing van die oomblik by 'n vriendin 'n draai. My motiewe was nie suiwer nie: Ek wou hê haar hond moet myne moeg speel, want ek was nie lus om te gaan stap nie. Ek was ook nie lus vir vriendin se man se geselskap nie, maar ek moes maar die on-luste teen mekaar opweeg.
     Haar manlief is heelwat ouer as ons, en kortgebaker. Hy het die vorige week ‘n operasie ondergaan en is moeilik.
     Ons verdwyn gou-gou na haar werkkamer, sodat ons ongesteurd kan gesels. Net toe die honde moeg gespeel is, kom haar manlief daar aangehink en maak homself sit. Ek moet oor die nodige ditjies en datjies gesels. Toe kom die buurman aan en nog ditjies en datjies laat my langer sit. En ek merk op vriendin se wederhelf is nou wel ouerig, maar sy kortbroekie sit knap.
     Toe ek opstaan op te gaan, stap vriendin saam, maar sy stop eers by hom. Sy vat hom aan daai broekspypies en ek dag sy sien seker dit span so styf om sy bobeen en sy wil die pyp so bietjie help skiet gee, omdat hy nie sonder hulp kan opstaan as hy eers sy sit gekry het nie.
     Die volgende oomblik gee sy 'n allemintige pluk aan die grote man se broek en daar sit lo broekspype by lo knietjies.
     Ek skaterlag van die skrik, en skrik toe nog 'n keer – want lo broekie is toe nie so kort nie: Die soom sit nou wel skielik op die knieë, maar die rek is nog reg bo in die middel. Dit was 'n langkortbroek en maar net baie hoog opgeskuif.
     ...en daar terg almal my omdat ek kwansuis so opgewonde gereageer het. Wat kon ek doen, ek moes bloos. Op 50.