Saturday 18 August 2012

EK WORD 'N LIEDJIESKRYWER

Ek is seker ek kan lirieke vir weskusliedjies skryf, besef ek een oggend op Velddrif. Ek lê vroeg die more en babbel met die honde en katte en my naaste wat nog baie deur die slaap is. So half wakker kan hy met hoogs vermaaklike bog vorendag kom. Ons maak rympies en vermaak onsself ten koste van ons dorp. Ons sing selfs. Gou het ons 'n lysie van moontlike liedjies.
     Ek sou graag wil werk aan 'n Velddrif-ballade - "Wie't my outboard gesteel?" Ek hoor reeds in my agterkop die refrein: "Ha-hum", vryf die speurder ingedagte oor sy baard wanneer die ontknoping van die saak hom telkens ontwyk ("ha-hum, ha-hum?"). Hierdie liedjie het nie 'n einde nie. Jy sing tot jou asem op is, en wanneer daar weer 'n outboard gesteel word, gebruik jy net ander name, tyd en plek en gaan sit weer noot in by die aanklagkantoor.
     Dis nou nie dat 'n mens op Velddrif baie sukkel met misdaad nie, maar die volgende song sal die polisie ongelukkig ook baie moet aanhoor: "Ek smag na stilte". Jy sing hom met trane oor die wange wanneer jy terug is by die Polisie nadat jy drie weke na mekaar vir hulle "Ghwarra-doef-doef" gaan sing het, omdat daar weer 'n braaiery en lawaaiery 'n kilometer straat-af van jou huis weerklink.
     As die polisie op die lang duur dit nie regkry om die Wet op Buurmanskap af te dwing nie, skryf ek vir jou die "Knak-song", wanneer jou moed breek en jy jou huis op die mark sit.
     Ander moontlike titels is "Waar kuier Piet vanaand?" en "My parras is weg" (tuin-parras!). Ek wil darem ook 'n romantiese liedjie doen, soos "Girls in Rugbytruie", iets wat Hannah Montana moontlik kan sing.
     Die Antwoord sal dalk in heelwat van die liedjies belangstel, veral omdat die refreine baie voorspelbaar is (die dorp is bekend vir sy gekruide taal). Dit bring ons by die strikvraag of 'n mens die liedjies sal kan publiseer of uitsaai. Weer eens sal Die Antwoord dalk die antwoord wees.




1 comment:

  1. Ai, hoe laat jy my nou verlang Weskus toe! Ek sien sommer die water van Bokkomlaan hier voor my geestesoog! Sit pen op papier, ek is seker daar sal 'n paar treffer liedjies uitkom

    ReplyDelete